debende.co.za

Voorwaardes

Terme en Voorwaardes

Hierdie voorwaardes geld vir deBende Lid en vir Persoonlike Video Boodskappe. Deur te betaal en aan te sluit, stem jy hiertoe in. Ons hou dit eenvoudig en menslik.

Laas opgedateer: 1 September 2026

1. Wie ons is

deBende Lid word aangebied deur De Bende (Pty) Ltd (handeldrywend as ‘deBende’), registrasienommer 2021/390322/07, BTW-nommer 4400314904. Kontak: info@debende.co.za  ·  068 624 3193.

2. Wat ons aanbied

deBende Lid is ‘n private gemeenskap op Telegram waar Riaan Benadé agter-die-skerms inhoud, onuitgereikte musiek, ‘live’ sessies en die podcast met lede deel.

Persoonlike Video Boodskap is ‘n opgeneemde video wat Riaan spesiaal vir jou of vir iemand na aan jou maak. Dit kos R500, BTW ingesluit, en ons stuur dit op WhatsApp binne 2 werksdae nadat jou betaling deurgegaan het. Naweke en publieke vakansiedae tel nie saam nie.

Kry jy dit nie binne 2 werksdae nie, of kan Riaan die versoek om enige rede nie doen nie, betaal ons jou volle R500 terug. Riaan neem nie videos op met seksuele inhoud, skeldname, kru vloek wat op iemand gemik is, of dreigemente nie. Die video is vir jou persoonlike gebruik — jy mag dit deel, maar nie verkoop of vir advertensies gebruik nie.

Albei is inhoud- en gemeenskapsdienste. Dit is nie beleggings-, advies- of besprekingsdienste nie.

3. deBende Lid — prys en duur

R999 vir 12 maande, BTW ingesluit. Een betaling.

Jou lidmaatskap loop 12 maande vanaf die dag wat jou betaling deurgaan. Daar is geen outomatiese hernuwing nie — niks word ooit weer van jou afgetrek sonder dat jy self weer koop nie. Ons laat jou betyds weet voor jou jaar verval. Doen jy niks, verval jou toegang eenvoudig.

Lidmaatskap is beperk tot 1 000 plekke. As geregistreerde BTW-ondernemer reik ons ‘n belastingfaktuur uit.

Betalings word hanteer deur Payfast, ‘n geregistreerde Suid-Afrikaanse betaaldiens. Ons sien en stoor nooit jou kaartbesonderhede nie.

4. Wat lidmaatskap insluit

Solank jy ‘n lid is, sluit jou lidmaatskap in:

Toegang tot die private Telegram-kanaal · een persoonlike video van Riaan per lidmaatskapjaar (een per jaar, nie oordraagbaar nie) · een lede-optrede per jaar in Pretoria met toegang vir elke lid · private afslagkodes en vroê toegang tot kaartjies, soos dit beskikbaar is.

Ons kondig die optrede se datum en plek betyds aan. Kan die optrede om enige rede nie plaasvind nie, is dit nie ‘n rede vir terugbetaling van jou lidmaatskap nie.

Ons mag die inhoud, formaat en aanbod van tyd tot tyd verander, maar nie tot jou wesenlike nadeel binne ‘n lidmaatskapjaar wat jy reeds betaal het nie.

5. Hoe jy toegang kry

Sodra jou betaling bevestig is, stuur ons per e-pos ‘n persoonlike Telegram-skakel wat net een keer werk. Jy benodig ‘n Telegram-rekening.

Toegang is persoonlik — moenie jou skakel aanstuur nie. Verloor jy dit, stuur ‘n e-pos na info@debende.co.za en ons maak vir jou ‘n nuwe een.

6. Wat ons van jou vra

Wees ordentlik met ander lede. Geen haatspraak, teistering, spam, bemarking van jou eie produkte, of onwettige inhoud in die groep nie. Behandel die groep soos jy ‘n kuier by iemand se huis sou behandel.

7. Inhoud en kopiereg

Alle musiek, video’s, opnames en ander inhoud in die groep behoort aan De Bende (Pty) Ltd of sy lisensiehouers. Dit word met jou gedeel vir jou persoonlike gebruik. Jy mag dit nie aflaai en herversprei, op sosiale media plaas, verkoop of publiek deel nie. Dit geld veral vir onuitgereikte musiek.

8. Ons regte

Ons mag ‘n lid verwyder as hierdie voorwaardes ernstig verbreek word — veral by die lek van onuitgereikte inhoud. In daardie geval betaal ons die onbenutte deel van die lidmaatskapjaar terug, minus die waarde van wat reeds gelewer is.

Ons mag ook die inhoud, formaat en aanbod van deBende van tyd tot tyd verander.

9. Kansellasie

Afkoeltyd (7 dae). Jy het 7 dae ná betaling om te kanselleer en ‘n volle terugbetaling te kry, solank jy nog nie die Telegram-skakel gebruik het nie. Sodra jy in die groep is, het die diens begin en val die afkoeltyd weg. Vir ‘n videoversoek val dit weg sodra Riaan die video opgeneem het.

Kansellasie enige tyd. Die Verbruikerswet (artikel 14) gee jou die reg om enige tyd te kanselleer met 20 werksdae kennis. Stuur ‘n e-pos na info@debende.co.za.

Ons betaal die onbenutte deel van jou jaar terug, minus ‘n redelike kansellasiefooi soos die wet toelaat. Het jy reeds jou persoonlike video vir daardie jaar ontvang, trek ons die waarde daarvan (R500) af.

Terugbetalings word binne 15 werksdae terugbetaal na dieselfde metode waarmee jy betaal het.

10. Telegram

Die groep loop op Telegram, wat ons nie besit of beheer nie. Ons is nie verantwoordelik vir Telegram se beskikbaarheid, koste of beleide nie. Telegram mag ‘n eenmalige SMS-verifikasiefooi hef – dit is Telegram s’n, nie ons s’n nie.

11. Aanspreeklikheid

Ons bied deBende aan soos dit is, en doen ons bes om dit werkend en waardevol te hou. Ons is nie aanspreeklik vir indirekte verliese nie. Niks hierin beperk jou regte onder die Verbruikerswet nie.

12. Veranderinge

Ons kan hierdie voorwaardes opdateer. Wesenlike veranderinge sal ons in die groep of per e-pos aankondig.

13. Toepaslike reg

Hierdie voorwaardes word beheer deur die reg van die Republiek van Suid-Afrika.

14. Kontak

Enige vraag? Skryf gerus aan info@debende.co.za of skakel ons by 068 624 3193.
Scroll to Top